Broodlyn

Die Afrikaner ken die Broodlyn baie goed.  Ons was mos van die begin af daar toe ons moes leef van die veld, moes trek oor die berge en ons kinders aan die lewe moes bid met een teelepel kondensmelk per dag in 'n kamp.  Die moderne broodlyn van R14,22 per dag was nie die grootste uitdaging wat ons nog beleef het nie.  Armoede kon ons nog nooit knak nie, BEE en afdankings het ons in entrepeneurs verander, ons boerderye voed die massas en ons kinders word nogsteeds goed opgevoed.  

 

Ons floreer nog altyd in die skaduwee van die Broodlyn.  Hierdie lyn maak dat ons nooit op die draad sit nie, ons maak ons stem dik, al voel ons dat ons geestelik en emosioneel ook maar net-net aan die gang bly.  Hierdie lyn maak dat ons nie verlang na die groen gras anderkant die draad nie want ons weet ons sal oorleef.  Ons het dan nog altyd.  Hierdie Broodlyn herinner ons daaraan om ons lyn te hou teen die vyand op die Kaplyn.  Die lyn leer ons om onderskeid te tref, grense te trek en die kern te bewaar.    

 

Hierdie Broodlyn van herinnering is soos die ry broodkorsies wat Hansie en Grietjie agter hulle laat val om die pad terug huistoe te onthou.  Tog gebeur dit elke keer weer dat die bose kraaie die brood oppik en ons verdwaal in die bos.  Elke nou en dan word die Afrikaner gelok met 'n helder huis van lekkergoed en voor ons weet is ons vasgekeer in 'n hok en oorgelwer aan 'n heks en die toekoms lyk soos die dood....

 

Genadiglik weet ons 'n boer maak 'n plan.  'n Boer weet mooi hoe om te ballanseer op die fyn lyn tussen vreesloosheid en berekende risiko.  Op die Broodlyn is die Afrikaner desperaat genoeg om dapper te wees, slim genoeg om sekuur te wees en gelowig genoeg om geduldig te wag.

 

Volg die Broodlyn huistoe.  Kyk diep in jou hart en onthou die pad.

 

Feltbrand op Facebook Volg ons op Twitter